Copy
Lees hierdie nuusbrief in u webblaaier
Amptelike e-nuusbrief van die HMS Bloemhof | Vrydag, 11 Januarie 2019

Matrieks met puik uitslae beloon

Die Klas van 2018 het op Vrydag, 4 Januarie 2019 die goeie nuus gekry dat hulle almal die NSS-eksamen geslaag het.  Nie net spog Bloemhof vanjaar weer met 'n 100% slaagsyfer nie, maar 50,7% (74 van die 146 leerders wat die eksamen voltooi het) het met 'n gemiddeld van 80% of meer geslaag.

"Ons staan weer asemloos en dankbaar oor ons matrieks se uitslae," sê me. Wilna van Heerden.  "Dit bewys net weer dat met eerlike werk, egte verhoudings en gesonde pret die res vanself kom."

Danielle-Verné Louw, vanjaar se Dux-leerling, het 'n gemiddeld van 96,2% behaal, terwyl Alet Müller die tweede klasposisie met 95,3% beklee.  Albei dié leerders het vanjaar die WKOD se merietelys gehaal en is saam met me. Van Heerden genooi om die Leeuwenhof-prysuitdelingsfunksie op Donderdag, 10 Januarie by te woon.

By dié geleentheid het Debbie Schäffer, Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, aangekondig dat Bloemhof die derde plek op die WKOD se lys van 20 toppresterende skole in die provinsie beklee.  Herschel Girls' School, 'n privaatskool in Claremont, is eerste en Rustenburg Girls' High tweede.  Bloemhof was in 2018 sewende op dié lys.

Verder het Bloemhof twee toekennings ontvang:  Algehele beste prestasie in English Home Language en algehele beste prestasie in Afrikaans Huistaal – 'n reuse pluimpie in die Bloemhof-hoed.

Veels geluk aan al ons matrieks en hul ouers – ons wens vir julle net voorspoed toe.  Ook 'n spesiale woord van dank aan ons opvoeders vir die wyse waarop hulle tot die leerders en die skool se sukses bygedra het.
Bloemhof se toppresteerders vanjaar is Alet Müller (links) en Danielle-Verné Louw.
In die derde klasposisie met 94,3% is Louise Bührmann (links), terwyl Louie Gerber (regs) met 94,0% vierde in die graad geëindig het.  Louie het A-simbole in al agt haar vakke behaal.  Foto's: Stephan Meyer

Welkom, Graad 8's!

Carli Carstens glimlag breed toe sy Dinsdag die skoolhoof en die adjunkhoof se hand skud. 
Foto:  Stephan Meyer  
142 dogters het op Dinsdag, 8 Januarie 2019 vir die eerste keer in hul nuwe skooldrag Bloemhof se hekke binnegestap.  Volgens tradisie is vier kerse vir die Klas van 2023 aangesteek en die wens uitgespreek dat hulle hier by Bloemhof sal BLOM:  om soveel moontlik te beleef, maar ook om te laat gaan, om vir mekaar om te gee en met motivering te handel.   
 
Na verwagting was die nuwe Bloemhoffers op hul senuwees, en dit was oudergewoonte vir die koshuisleerders moeilik om hul ouers te groet, maar verskeie aktiwiteite is tydens die week aangebied om die nuwelinge aan die skool en mekaar bekend te stel.

"Sover is die verwelkoming baie lekker," sê Anel Ghalpie.  "Ek het baie skoenlappers in my maag gehad, en al is die skoenlappers nog daar, voel ek baie gemakliker." Marianne Fourie, wat twee ouer susters in die skool het, is baie vrolik.  "My sussies het vir my gesê ek gaan dit love en hulle het nie gejok nie!" 

Susterskap by Bloemhof strek egter verder as familiebande en die VRL se doel met die verwelkomingsweek is om dié gedagte by die nuwelinge tuis te bring.  Die graad 8's slaap vanaand by die skool oor en sal Maandag hul skoolbaadjies tydens die Baadjieseremonie ontvang.
  • Ouers is welkom om die Baadjieseremonie by te woon.  Dit vind Maandag tydens die saalopening in die Sentrum plaas – neem asb. u sitplek teen 09:15 in.  

Bloemhof-gimnasium open eersdaags

Die HMS Bloemhof Fiksheid- en Fisioterapiesentrum sal op Woensdag, 16 Januarie amptelik vir gebruik open.  Hierdie ruimte is die breinkind van me. Jenny King, Bloemhof se sportbestuurder vir Hoë Prestasie Sport en -beplanning en het ten doel om alle Bloemhoffers aan te moedig om gesonder te leef.  Die gimnasium is agter die verhoog van die sentrum geleë en 'n deeltydse fisioterapeut kan ook hier besoek word. Foto:  Stephan Meyer.

Jaarprogram 2019
Die jaarprogram vir 2019 kan hier afgelaai word.  

Somersportsoorte:  Oefeninge begin Maandag
Oefeninge vir alle somersporte (atletiek, tennis, swem en waterpolo) begin reeds volgende week.  Die oefentye kan by /oefentye gevind word.   

Klerebank:  Nou oop op Dinsdae, Donderdae en Vrydae
Die Klerebank sal vanjaar steeds tussen 10:00 en 15:00 oop wees, maar slegs op Dinsdae, Donderdae en Vrydae.  Vir meer inligting en die nuutste pryslys, besoek /klerebank.  

Wiskunde Hulpklasse
Ouers en leerders word herinner dat die skool gratis hulpklasse in Wiskunde aanbied.  Meer inligting kan hier gevind word.  

Graad 11-ouervergadering
Graad 11-ouers word aan die vergadering van 15 Januarie 2019 herinner.  Kliek hier vir meer inligting. 

Sluitkassies
Leerders wat in 2019 sluitkassies wil huur, word op hierdie kennisgewing gewys.  
 

Besoek die digitale kennisgewingbord op ons webwerf vir alle kennisgewings wat in die afgelope ruk gepubliseer is.

Let daarop dat baie van hierdie kennisgewings na spesifieke bladsye op ons webwerf skakel.  Dit word met 'n skuistreep (/) voor die bladsy se url aangedui – oefentye is bv. by www.bloemhofschool.co.za/oefentye beskikbaar.  

Bloemhof-webwerf
Bloemhof Twitter-rekening
Bloemhof Facebook-blad
Bloemhof Instagram-rekening
Om by die HMS Bloemhof te adverteer, kontak die kommunikasiebestuurder
Kopiereg © 2019 Hoër Meisieskool Bloemhof, Alle regte voorbehou


Hierdie e-pos word outomaties aan u gestuur.
U kan u besonderhede hier verander of u naam van die verspreidingslys verwyder.

Email Marketing Powered by Mailchimp






This email was sent to <<E-posadres>>
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
Hoër Meisieskool Bloemhof · Koch Street · Stellenbosch, Wc S-7600 · South Africa

Email Marketing Powered by Mailchimp